Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn
Pretoria

GEREFORMEERDE ONDERWYS



Die vraag word soms gevra waarom gereformeerde onderwys aan ons kinders gegee word. Die feit dat ons God se kinders is, is nie maar net toevallig nie, maar dit is uit God se onnaspeurlike genade. Hy het ons gekies om sy kinders te wees. Reeds by die doopvont het die HERE beloof dat Hy ons Vader wil wees. Reeds toe het die Vader vir ons gesê: “Jy is My kind en Ek sal vir jou sorg.” Reeds toe het die Seun ons verseker: “Ek sal jou was en reinig met My bloed.” Reeds toe het die Heilige Gees ons beloof: “Ek sal in jou leef en die geloof in jou werk.” Op dieselfde manier laat ons ons kinders doop en ontvang ons kinders ook die beloftes. Ons, as ouers, lê ʼn belofte af voor die Here en sy gemeente: “Ons bely dat die leer van die Ou en Nuwe Testament wat in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid is.” Ons het by hierdie geleentheid ook beloof dat ons ons kinders sal onderrig en laat onderrig in hierdie leer. Ons het beloof dat ons dit na die beste van ons vermoë sal doen. Waarom dan gereformeerde onderwys? Vanweë daardie belofte! Die gereformeerde skool kan alleen so funksioneer wanneer dit ʼn verlenging is van die gereformeerde gesin. Die gereformeerde karakter van ons gesinne en skool kom nie slegs tot uiting in die sing van Psalms, die Christelike gebede en die Bybelse onderwys nie. Nee, daardie gereformeerde karakter moet deurwerk in alle aspekte van die lewe. Dit werk deur in alle vakgebiede van die skool, net soos die suurdeeg in ʼn brood. 9 Laat ons die Here elke dag dank vir hierdie seëning van gereformeerde onderwys, en bid dat ons getrou sal mag bly aan Hom, sodat ons as ouers en onderwysers saam mag werk om ons kinders te bekwaam met die helm van verlossing en die swaard van die Gees -- dit is die woord van God (Efesiërs 6:17).