Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn
Pretoria

Die goeie grond...



“En ‘n ander deel (van die saad) het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.” (Matt 13:8)

So aan die begin van die jaar is dit goed om weer stil te staan by die rede vir gereformeerde onderwys. Gaan dit oor die kennis wat die leerders versamel? Bybelkennis? Gaan dit oor die uitslae aan die einde van die jaar? Gaan dit oor die ontwikkeling van die kinders op akademiese, sosiale en emosionele vlak? Natuurlik is dit alles goeie redes, maar die belangrikste rede is om die kinders te leer om in hulle lewe dissipels van Christus te wees. Die wêreld behoort aan die Here. Om regtig onder die indruk te kom van God se skeppingsmag en van sy versorgende liefde, is dit belangrik dat ons die wêreld bestudeer. Daarvoor kom ons skool toe! Wanneer ons sien en verstaan wat die Here vir ons gedoen het, sal ons dit ook met dankbaarheid in ons lewens wys. Dit is dan wanneer die saad van die geloof vrug dra in die goeie grond. Daar is baie verskillende maniere waarop hierdie vrug sigbaar word. Die Here Jesus sê tog hier in Matt 13 dat die een honderdvoudig en die ander dertigvoudig sal dra. Elkeen op sy eie manier en volgens sy eie talente. Om hierdie dissipelskap te leer, het ons mekaar se hulp en ondersteuning nodig. Ouers, leerders, onderwysers en bestuur het saam een doel voor oë: om die Here se Naam groot te maak in alles wat ons doen. Mag die Here ons die krag en sterkte gee wat ons ook hierdie jaar weer nodig het om tot Sy eer te leef!

Mev. K. IJlst