Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn
Pretoria

AGTERGROND DIE NAAM
JOHANNES CALVYN



Johannes Calvyn is die naam van een van die groot hervormers wat in die sestiende eeu ‘n groot invloed op die reformasie in Europa gehad het. Net soos wat Johannes gelowige kinders terug na die Bybel verwys het, so is dit ons skool se strewe om voordurend terug na die Skrif te verwys.

Tydens die Hervorming het die Here Johannes Calvyn (1509 – 1564) gebruik om sy Woord te laat seëvier. Die Hervorming het die gelowige kinders terug verwys na die Bybel en die volgende onderskryf:

  • Sola Scriptura: die gesag van die Heilige Skrif
  • Sola Fide: die regverdigmaking deur die geloof
  • Sola Gratia: die redding uit genade alleen.

Johannes Calvyn het besef dat ons hele lewe gerig moet wees op die eer van God. Nie net ons persoonlike lewens nie, maar alle aspekte van ons lewe, ingesluit alle vorme van regering, die wetenskap en die onderwys. Dit alles moet onderwerp wees aan God se Woord en aan sy soewereiniteit, sodat ons Hom deur dit alles groot kan maak. Daar is geen ruimte om neutraal te wees nie. Deurdat ons skool se naam ‘Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn’ is, onthou ons nie net hierdie man wat so hard gewerk het in volle vertroue in God se koninkryk nie, maar belangriker nog, ons erken dat ons ook vandag nog volstaan in daardie vertroue wat hy verkondig het, deur die genade van God.

Ons skool het sy basis in die Vrye Gereformeerde Kerke waar ouers, leerders en onderwysers elke Sondag saam aanbid. Ons mag die belangrikheid sien van ʼn sterk basis tussen die geloof van die kerk en die kurrikulum van die skool. Die driehoekverhouding, wat gesinne, kerk en skool saambind, is ʼn seën vir almal van ons. Mag die HERE ons geloofsvertroue in Hom seën sodat die volgende generasies Hom ook sal wil dien in geloofsvertroue en gehoorsaamheid.


OPRIGTING


Die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn het in 1964 tot stand gekom toe ‘n aantal ouers ‘n skoolvereniging gestig het. Hierdie ouers, almal lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerk te Pretoria, het vanuit die doopbelofte wat hulle voor God afgelê het, dit noodsaaklik geag om ‘n skool onder hulle eie beheer op te rig. In so ‘n ouerskool kan ouers hul kinders laat onderrig in ooreenstemming met die leer van die Skrif soos wat die kinders dit by die huis en in die kerk geleer word. ‘n Statuut waarin die grondslag en ander reëlings t.o.v. die skool neergelê is, is ook deur die ouers opgestel. ONS BASIS Die ouers van ons skool besef dat daar ʼn groot mate van konfessionele eenheid tussen die gesinne, die skool en die kerk moet wees. Daarom onderskryf die skool dieselfde grondslag as die Vrye Gereformeerde Kerke: die onfeilbare Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (1559), die Heidelbergse Kategismus (1563) en die Dordtse Leerreëls (1618).